R170
Antjie Krog
Afrikaans Fiksie
NB Uitgewers
Mankepank en ander Verse

Mankepank en ander Verse

gardens on Tue, 17/01/2012 - 14:29

Die gedigstories in hierdie bundel is 'n samestelling van verse uit Mankepank en ander Monsters (1985) en nuwer verse. Krog sê in die voorwoord dat die ouer verse vir haar kinders geskryf is, en die nuwes vir haar kleinkinders. Soos in Fynbosfeetjies is die klem ook sterk op ons eie kontinent, en daar is weer baie feetjies om mee kennis te maak, soos die "Kappertjiefeetjie" en die "Posbusfeetjie". Daar is ook 'n beskrywing van 'n 'Feetjietaxi' en selfs advies oor hoe om na jou eie vlerkies te kyk. Afrika legendes en mites word digterlik oorvertel, soos die van "Antjie Somers" en Modjadji, die" Reënkoningin". Maar dit is ook vol van spoke (selfs 'n toiletspook!), 'n tokkelos en mbulu, en 'n eienaardige heks met 'n aërosolkan vol toorgoed. Om nie eens van "Mankepank die mensvreter" te praat nie! Die pragtige illustrasies deur Diek Grobler komplementeer die toweragtigheid van die woorde self, en as 'n geheel is dit 'n boek wat gesinne saam aan kan lees, en hopelik sal oordra na die volgende generasie.