-
Kamphoer deur Francois Smith
R220.00Moenie mislei word deur die sensasionele titel nie; hierdie verhaal, wat gebaseer is op ware gebeure, is ‘n diep verkenning van die binnelewe van ‘n verkragtingslagoffer. Susan Nell is tydens die Eerste Wêreldoorlog ‘n psigiatriese verpleegster nadat sy in die Anglo-Boereoorlog in die Winburg-konsentrasiekamp wreedaardig verkrag en vir dood gelos is. Om die beurt word haar stadige fisiese herstel en haar lewenslange sielkundige herstel vertel. In die Wêreldoorlog het sy al 16 jaar van psigiatriese studie en verpleging agter die rug, en is dit asof alles in haar lewe haar gelei het na díe inrigting, díe herontmoeting met een van haar verkragters. Nou is hy egter ‘n hulpelose pasiënt, ‘n sogenaamde bomskok-lyer, en sy is in die magsposisie – of is sy? Die effek wat so ‘n geweldige trauma op ‘n mens kan hê, elke dag van die res van jou lewe, word uitmuntend uitgebeeld. In die lig daarvan dat Francois Smith een van die beste Afrikaanse teksredakteurs is (onder die skrywers vir wie hy redigeer, tel Dan Sleigh, Etienne van Heerden en Eben Venter), is dit geen wonder dat díe debuutroman so weldeurdag en kunstig aanmekaargevleg is nie.
-
Katoog deur Jeanette Stals
R215.00Resep vir ‘n speurverhaal:
‘n Allenige dogtertjie wat graag by die stroompie speel en met haar denkbeeldige olifant gesels (Opla).
‘n Jong speurder op haar eerste moordsaak. Sy is nog onervare, effe naïef en waag dit alleen in situasies waar sy liewer moes weggebly het (Luna).
‘n Liggaam: ‘n jong vrou, half ontbind, in die stroompie. Sy het nie ‘n van nie, en ook nie ‘n “vandaan” nie (Angie).
‘n Arrogante, uitdagende, dreigende motorfietsryer wat net té dikwels opduik waar Luna haar bevind (Mike).
Luna se ondersoekleier, wat op ‘n ongewone manier in haar persoonlike lewe belangstel (Johan).
Een arm woonbuurt neffens die riviertjie. Al die inwoners dra een of ander psigologiese letsel van hul omstandighede. Al die inwoners is baie ontwykend by ondervraging.
Meng deeglik terwyl geheime bestanddele een-een bygevoeg word – siedaar! -
Koors – Deon Meyer
R290.00Deon Meyer slaan ‘n nuwe rigting in: post-apokalipties en spannend. Toegegee, spanning is Meyer se fortê – dis hoekom mens die boek nie kan neersit nie! Willem Storm en sy seun Nico oorleef Die Koors waaraan omtrent 95% van die wêreldbevolking gesterf het. Willem slaag daarin om ‘n gemeenskap van oorlewendes te vestig aan die Vanderkloofdam in die Oranjerivier. Amanzi gedy onder sy sorgsame en idealistiese leiding, maar ongelukkig pak nie almal oorlewing so aan nie; daar is altyd skurke, moordenaars en buiters wat bedreiging inhou. Dis waar die enigmatiese en onverskrokke Domingo inkom. Met sy doodsveragtende optrede beskerm hy Amanzi teen hierdie bendes en word Nico se held. Willem is so besig om Amanzi se mense te versorg dat hy en Nico, nou ‘n tiener, uitmekaar dryf. Maar dan word sy pa vermoor, en Nico besef wat hy verloor het. Nou wil hy wraak neem. Domingo het hom immers goed opgelei.