Doller As Kopaf (Paperback)
ʼn Paar jaar gelede het luisteraars geskater tydens die uitsaai van die komiese RSG-radiodramas Doller as Kopaf en Daar’s iets omtrent Daisy (albei uit die pen van William Oosthuizen), heerlik vertolk deur veterane van die verhoog: wyle Louis van Niekerk, Tobie Cronjé, wyle Paul Lückhoff, Rina Nienaber, Ria Smit, wyle Elize Cawood, Rika Sennett, Heidi Mollentze, Bettie Kemp, Lochner de Kock en Elzabé Zietsman, onder regie onderskeidelik van Kobus Burger en Denver Vraagom.
Nou is hierdie dramas saam verweef in boekvorm, met nuwe (en meer gewaagde) kinkels vir ʼn lekker lag lees-avontuur.
Doller as Kopaf bied ʼn knipoog-kykie na die doen en late van ʼn groep afgetredenes in ʼn luukse, maar uiters saai, aftreeoord. Freek se pret-projek – geloods teen die advies van sy vriende, die bek-af Dawid en die skatryk alleenloper, Hardus – beloof om dinge bietjie op te kikker en om vooropgestelde idees te beproef.
Dit is die spreekwoordelike neergooi van die strydbyl vir Mara, selfaangestelde sede-kampvegter van die oord. Sy kommandeer die vroue van die oord op om laer te trek. En met die skielike opwagting van die voormalige model Daisy – pas uit die rou, as ʼn korttermyn-huurder en mannejagter – begin die ou manne se asems jaag, veral met die vooruitsig van ʼn kaalbas groepfoto vir ʼn internasionale kalender, om geld in te samel vir liefdadigheid. Vele kinkels lei tot dramatiese en dikwels absurde gevolge.