Elly Holm: Van Berlyn Tot Hartbeespoort (Paperback)
ie veelsydige kunstenares Elly Holm se lewensverhaal begin in Berlyn en na talle grootpaaie en afdraaipaaie eindig dit by die Hartbeespoortdam. Sy oorleef twee oorloë in Duitsland: die Eerste Wêreldoorlog as kind van 'n Duitse offisier en die Tweede Wêreldoorlog as vrou, kunstenares en moeder.
Terwyl sy studeer aan die kunsakademie van Leipzig, ontmoet sy die Suid-Afrikaner Erik Holm. Hy praat haar om om hom na Suid-Afrika te volg, waar hulle in die huwelik tree en hul twee oudste kinders, Dieter en Albrecht, gebore word. Hul lewe saam maak allerhande boeiende, maar ook uiters uitdagende draaie. Ná die Tweede Wêreldoorlog word Erik in Suid-Afrika aan hoogverraad skuldig bevind weens sy werk by Radio Zeesen wat pro-Duitse programme in Afrikaans uitgesaai het. Elly volg hom om in die verhoor te getuig. Nadat Erik tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is, kom hul kinders en ouma Elly ook na SuidAfrika.
As enigste broodwinner staan Elly voor groot uitdagings, maar haar innerlike krag en vermoë as kunstenaar voer haar deur die moeilike omstandighede. Sy bly tot op hoë ouderdom steeds skeppend aan die werk. Elly Holm word vandag onthou vir die veelsydigheid van sowel die onderwerpe as die mediums wat sy gebruik het en waarin sy soms baanbrekerswerk gedoen het. Haar kenmerkende Ψ-simbool pryk op kunswerke by universiteite, skole, biblioteke, kerke en talle huise.