Ons wag vir Godot
Ons wag vir Godot is die eerste Afrikaanse vertaling wat uit die oorspronklike Franse teks vertaal is; die première sal plaasvind by
die Vrystaat Kunstefees in Julie 2024.
Soos alle goeie dramas, is hierdie speelteks ook ‘n leesteks:
Almal wat belangstel in drama en in dramavertaling behoort ‘n kopie daarvan te hê.
Die oorspronklike Franse uitgewer, Les Editions de Minuit, het toestemming gegee dat slegs 300 eksemplare daar-van deur Naledi
gedruk mag word. Om een só ‘n eksemplaar te besit, is om reeds die vreugdevure aan te steek vir Afrikaans se honderdste verjaardag in 2025. Dit sal definitief ‘n versamelaarsitem word.
Die toneelstuk waar niks gebeur nie.
In Ons wag vir Godot word elke oomblik ’n openbaring en elke reël ’n poëtiese besinning oor die raaisels van die lewe. Twee mans wag langs ‘n verlate pad vir iemand genaamd Godot. Hulle verwyl die tyd met igsinnige speletjies, mymerende redenasies, en deur hul hoede uit te ruil. Dit word aand, en dit word môre. Hulle wag verder. Wat volg, is uiters vermaaklike tragikomedie wat jou tot in jou kern sal roer.
Ontdek opnuut Samuel Beckett se tydlose meesterstuk, en herontdek die intrige wat oor die laaste 70 jaar wêreldwyd miljoene se lewensuitkyk verryk het. Al “gebeur daar niks nie, al kom niemand nie, en al gaan niemand ooit weg nie,” is daar altyd hoop.
Een van die belangrikste dramas van die afgelope eeu kry unieke Suid-Afrikaanse baadjie in hierdie opwindende Afrikaanse vertaling deur die bekroonde vertaler, Naòmi Morgan.
Soos alle vertalings, is ook hierdie een ’n respekvolle eerbetoon aan die outeur van die brontekste, maar ook aan die teikentaal, wat in 2025 eenhonderd jaar oud sal wees.
Almal wat betrokke is by hierdie projek (die vertaler, die uitgewer, die produksiespan) is trots om Afrikaans op hierdie wyse te vier: Vladimir sou ook gedink het dat honderd jaar ’n goeie getal is om ’n taal te slyp vir die vertaling van een van die bekendste dramas in die wêreldrepertoire.