Waar oos & wes ontmoet (Paperback)
Waar oos & wes ontmoet vertel die storie van Dina Tseng.
Sy treur 14 jaar lank oor haar verlore kollegeliefde en ondergaan skrikwekkende skokterapie. Later ontmoet sy vir Tommy, ‘n Taiwannees, wat gedurende die Apartheidsjare met bykans niks Suid-Afrika toe kom nie. Hul verhouding is aan die ontvangkant van rassehaat en vooroordeel. Sy maak Tommy se drie Taiwannese seuns groot en saam bou hulle ‘n imposante sakeryk op. Die NG Kerk weier om hulle te trou omdat hy ‘n Boeddhistiese agtergrond het, maar doop tog hulle twee kinders, Iewan en Iemei, as Tommy belowe om die kinders as Christene groot te maak. Die gesin voer ‘n sprokiesbestaan en reis gereeld oorsee, maar ook húlle word nie teenspoed gespaar nie. Hul ondernemings word deur vloede, ‘n brand en ‘n tsoenami verwoes, maar telkens verrys hulle weer uit die stof en 33 jaar later is Tommy en Dina se huwelik sterker as ooit. Intussen stry Dina ‘n moedige stryd teen melanoom-, bors- en ongeneeslike rugmurgkanker. Sy bly egter positief, geniet die lewe voluit en vier elke kosbare omblik.
Dis ‘n verhaal van geloof, hoop en onsterflike liefde.