Ek Is Nie Danie (Trade Paperback)
Ek is nie Danie is ’n keur uit die digter Danie Marais se vier digbundels: In die buitenste ruimte, Al is die maan ’n misverstand, Solank verlange die sweep swaai en Ek en jy bestaan nie. Daar is ook een nuwe gedig ter inleiding.
Die versameling sluit volledige weergawes van die 18 gedigte in wat tot die opspraakwekkende gelyknamige toneelstuk, Ek is nie Danie, verwerk is. Dié stuk, onder regie van Nico Scheepers, met spel en sang deur Albert Pretorius en musiek deur Schalk Joubert, het in 2025 vier Woordtrofeetoekennings, insluitend beste toneelstuk, ontvang.
Marais se werk is met die Ingrid Jonker-, Eugène Marais- en UJ-debuutprys, ’n SALAtoekenning en die eerste Breyten Breytenbach-prys vir Poësie bekroon.
Sy toeganklike gedigte knoop intieme gesprekke met die leser aan oor ontheemding in die buiteland, verlange, morsige liefde, gefnuikte verhoudings, ouerskap en die verwarspul van middelklasverknorsings in ’n skisofrene, verskeurde Suid-Afrika. Dis poësie wat diep sny, maar jou altyd laat met die wete: jy brand nie alleen nie.
Met ‘Ek en jy bestaan nie’ is Danie Marais, wat my betref, een van die weinig wit manlike digters in Afrikaans wat homself volledig binne ons nasionale konteks teken. – Antjie Krog