Misdaad en Riller Bundel
Maalkolk:
’n Onskuldige man word in sy motorhuis met ’n jaggeweer doodgeskiet. ’n Jong vrou se lyk hang aan ’n boomtak diep in die Magaliesberg.
Speurder-kaptein Alek Strauss en sy span by die Fiskale Spesiale Ondersoekeenheid is verbysterd. Iewers is ’n moordenaar wat slu speletjies speel.
Intussen is adjudant-offisier Anele Vilakazi op die spoor van ’n boogskutter aan die Wildekus.
Sal kaptein Strauss en adjudant Vilakazi die skuldiges kan stuit, voor daar nog slagoffers geteiken word?
Toekomsmens:
Pretoria, 2057.
Dertig jaar ná Johannesburg in ’n spookstad verander het, word die Nuwe Republiek van Suid–Afrika deur die Toekomsparty en ’n Raad van Twaalf regeer. Kel de Jong werk as ’n programmeerder in die Intelligensieburo. Sy geordende lewe word in chaos gedompel wanneer ’n militêre observasiesatelliet ’n jong kind op die verlate N1 tussen Pretoria en Johannesburg ontdek. Op dieselfde dag word In–Grid, die Intelligensieburo se sentrale kunsmatige intelligensie, in ’n aanval vernietig. In chaos wat volg, aktiveer Kel In–Grid se prototipe en ontdek dat dit die herinneringe van Agnes Baumer bevat, ’n vroulike spioen in Duitsland gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Met behulp van tydreise ontdek Kel in die verre verlede die waarheid agter die gebeure in sy hede.